small font default font large font
Sondag, 05 September 2010
ACSI Aanbieding Afdruk E-pos
Geskryf deur Pieter Bos   
Donderdag, 13 November 2008 04:00
Met die afgelope Donderdag aand se ledevergadering het ons 'n baie spesiale gas as spreker gehad. Anna-Marie Russel het 'n baie motiverende aanbieding kom lewer rondom Christen skole en die belangrikheid daarvan vir Christene en hulle kinders.

Ek sou graag wou hê dat elkeen van ons ouers hierdie praatjie moes kon hoor. Anna-Marie is die nasionale direkteur van "Association for Christian Schools International - S.A.", 'n wêreldwye organisasie wat hom vir christen skole beywer. Anna-Marie het self baie ervaring van die staatskole in Suid-Afrika, as oud-onderwyser. Deur haar betrokkenheid met ACSI kan sy ook met gesag praat van staat- en Christenskole reg oor die wêreld.

Sy het daar op gewys dat onderwys nie gemik behoort te wees op prestasie, erebalkies en beurs-kwaliteit punte nie. Nee, onderwys behoort die vervulling te wees van elke individu se potensiaal. Hierdie potensiaal wat ontgin moet word lê volgens haar op meer as net die akademiese vlak. Behalwe kennis is vaardigheid, 'n Bybelse wêreldbeskouing en geestelike vorming ewe belangrik in 'n Christen skool.

Sy haal 'n baie kosbare gedeelte aan wat Martin Luther gesê het:    "I am afraid that the schools will prove the very gates of hell, unless they diligently labour in explaining the Holy Scriptures, and engraving them on the hearts of youth. I would advise no one to send his child where the Holy Scriptures are not supreme. Every institution in which men and women are not unceasingly occupied with the Word of God must be corrupt."--Martin Luther

Hierdie aanhaling het baie ouers weer laat besef dat 'n Christen skool baie meer is as 'n skool met 'n Christelike waardestelsel. Dat 'n Christen skool alle aspekte van skoolwees integreer met die Woord van God. Dat die kinders wat in 'n Christen skool onderrig word, 'n lewenswyse aangeleer word wat deel word van hulle hele wese. Die vraag is of ons kinders wil groot maak wat goed toegerus is om sakke vol geld in hierdie wêreld kan verdien, óf wil ons hulle toerus om God in elke aspek van sy/haar lewe te dien en vertou om so deel van die ewige koninkryk nou reeds te kan smaak.

Met 'n opname onder Christen skole is die vraag gevra waarom ouers kies om hulle kinders in Christen skole te plaas. Die nommer een rede was liefde. Omdat hulle, hulle kinders lief het kies hulle 'n Christen skool wat 'n verlengstuk van die ouerhuis is en dus ook van die ouer liefde. Dus is die nommer een keuse vir hierdie ouers nié die goeie fasiliteite of die indrukwekkend prestasies of die uitnemende hoof nie.

Die tweede grootste rede waarom ouers hul kinders in Christen skole plaas is verantwoordelikheid. Die ouers besef wat hulle plig en taak as ouer is met die opvoeding van hulle kinders. Hulle besef ook dat hierdie verantwoordelikheid in die ouerhuis ook strek tot in die skool. Omdat elke ouer aan God 'n belofte gemaak het om die kinders wat Hy hulle gegee het in die vrese van Sy naam groot te maak neem hierdie verantwoordelikheidsin ook prioriteit bo die glans en glorie van ander gegoede skole.

Anna-Marie het haar inspirerende toespraak afgesluit deur weer eens uit te wys wat die verskil is tussen 'n Christen skool en 'n skool met 'n Christelike etos. Dink maar aan die Christelik Nasionale onderwys wat baie van ons as ouers gehad het. In hoe 'n mate was Bybelonderrig nie maar die periode wat gebruik was om agterstallige huiswerk in te haal nie. Vra jou self die vraag af, hoeveel van jou onderwysers(esse) het werklik moeite gedoen om aan jou geestelike welstand aandag te gee.

Ja, ons het wel wonderlike onderwysers gehad. Ook goeie kerkmense. Niks fout daar mee nie. Maar was dit die skool en elke onderwyser se missie en visie om 'n impak te maak in daardie kinders se Bybelse wêreldbeskouing. Was dit 'n roeping en passie vir al daardie onderwysers gewees om 'n inspraak in die kinders se geestelike lewe te hê?

Miskien wel een of twee in jou hele skoolloopbaan. Wel dit is waar die verskil in kom as 'n Christen skool en ook die rol wat Reformia graag in elkeen van ons kinders se lewens wil speel. Hiermee saam kry Christen skole ook dikwels die kritiek dat die kinders in isolasie of idealisties grootgemaak word. Anna-Marie verwys in antwoord daar op na die volgende Engelse aanhaling: "A Christian School is nota refuge from the world, it is a resource to the world!"

So wil ons ook Reformia sien met sy onderwysers, kinders en ouers as 'n ligbron vír die wêreld. Kom ons vat hande, vergeet van ons eie self en streef saam 'n groter doel na.

Laas Opdateer op Woensdag, 01 Julie 2009 15:43